top of page

Redakteursbrief – 18 Februarie 2022

[OORSPRONKLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 18 FEBRUARIE 2022]

 

In die ou dae is die weer dikwels aangevoor as gespreksaanknoper of -vuller, as mens nie eintlik weet waaroor om met iemand te praat nie: “Hallo, lekker warm dié week, nê? Wonder wanneer kry ons weer ’n bietjie reën?”

Omtrent net boere het ernstig oor die weer gepraat. Met dié tipe gesprek is mense egter deesdae glad nie meer so nonchalant as in die verlede nie.

Soos ons, het u dalk ook al opgemerk dat vuur, water en klimaat as die groot nuusmakers uitgestaan het in die koerant sedert ons Suidernuus laasmaand oorgeneem het.

In ons eerste uitgawe het ons berig oor die enorme Kleinmond-vuur. Toe was daar die waarskuwing van Anton Bredell, die provinsiale minister van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, oor die merkbare daling in die watervlakke van damme. Ons het berig dat die vlak van Bredasdorpse Vleikloofdam teen mid-Februarie met ’n onrusbarende 20% gedaal het sedert mid-Januarie.

Ons het verslag gedoen oor die versengende hitte ’n paar weke gelede toe die kwik buite Napier amper 50° bereik het. En vandeesweek is die hoofnuus die verwoestende vuur wat vir vyf dae in die berg by Napier gewoed het en wat meer as 4 600 hektaar berggrond en fynbos vernietig het.

Die Overberg is natuurlik midde-in die droë seisoen en dit is die tyd van vure. Nietemin is sulke gebeure ’n ongemaklike stamp in die ribbe om ons te herinner in welke mate ons uitgelewer is aan die elemente.

Selfs met inbegrip van seisoenale tendense, moet ’n mens toegee dat die felheid en frekwensie van natuurverwante aanslae nie net by ons nie, maar wêreldwyd, onrusbarend toeneem.

Trouens, vir ons wil dit voorkom of ons ongemerk in ’n tipe tydvak inglip waar natuur-verbonde gebeure ons lewens in veel groter mate gaan vorm en gevolglik dus ook nuusgebeure gaan bepaal. Jy sou kon praat van die tydvak van die vier elemente – vuur, water, lug en grond.

Lug hou natuurlik verband met klimaatsverandering en die toename van CO² in die atmosfeer. Dit is hierdie aspek wat in ’n groot mate die oorkoepelende rede is vir die groter wispelturigheid van die elemente van vuur en water. En grond hou verband met die mate waarin ons as bevolking aanwas en meer land moet afstaan om mense te vestig en dus ongerepte natuur en voedselproduserende grond inboet.

’n Groot aantal koerante kyk hierdie ontwikkelings mis en bly verknog aan menslike, of dan politiek-gedrewe gebeure. Talle verkies om hul toe te spits op vermaak.

Ons dink dit is onverantwoordelik. Ten spyte van ons formidable tegnologiese vermoë, bly die mens uitgelewer aan die natuur. Die wispelturigheid van die elemente het ingrypende implikasies vir ons as mense. Dus word stories oor die elemente wesenlik stories oor mense.

Suidernuus is van voorneme om hierdie gegewe dop te hou en gebalanseerd daaroor berig te doen. Daarmee wil ons mense toerus met inligting oor wat met ons aan die gebeur is en hoe ons ons daarvoor kan voorberei.

Beste wense,

Die redakteurs

bottom of page