Redakteursbrief – 29 April 2022: Van afstand en verlies

[OORSPRONKLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 29 APRIL 2022]

 

Hierdie week loop ’n weemoedige toon deur ons hele koerant. Daar’s die overbergense vygie wat ontdek en dadelik krities bedreig verklaar is; en die kolibri aan die doodgaan oor die verkeerde suikerwater-mengsel in ’n voëltroggie. In die foto’tjie leef hy nog, in die werklikheid is hy reeds dood.

Twee van ons rubrieke bepeins strate wat nie meer bestaan nie en die koestering van stilte wat skaars geword het. Die stuk op bladsy 6 besin oor oerklippe waarop die spore van oerdiere nog gestempel lê, maar wat onvermydelik aan die versonke is in die see. Die artikel merk op dat sommige van hierdie klippe verkrummel en verlore gaan sonder dat enigiemand dit ooit onder oog gehad het.

En daar is ook die storie oor die Agulhus Vuurtoring-ontwikkeling, wat fraai en slim beplan is deur die argitekte om in te smelt by die omgewing, maar tog by mens ’n triestigheid wek omdat die omgewing daar verder ontwikkel word in die belang van die trefwoorde van ons tyd: bemarking en ekonomiese vooruitgang.

Die melankoliese toon was onbedoeld. Maar tog is dit vreemd gepas in hierdie oorgangstyd tussen somer en winter. Die herfs het tasbaar aangekom, die dae word korter, die nagte langer, die son bleker, die wind skraler.

Dit is die sirkelgang van die lewe; ’n ewige kring van afstandneem en van verlies.

Alles is verganklik. Verandering is die enigste konstante gegewe in ons bestaan.

Daar is iets bepaald onmenslik aan enige ding wat nie hierdie patroon volg nie.

Dink byvoorbeeld aan masjienerie wat sielloos voortsnor. Dink aan krioniese eksperimente om mense se lyke te vries in die hoop dat ’n poging gevind kan word om hulle weer op te wek. Dink aan die gedrogtelikheid van iets soos plastiek wat nie aan die verganklikheidsirkel onderhewig is nie. Daar is werklik iets ontstemmend en vervreemdend daaraan.

Om oorgange te beleef en te respekteer, is nodig om die sirkelgang van ons eie lewens te verwerk en te aanvaar.

Dit help om ons voor te berei vir ons eie onvermydelike verganklikheid. Dit berei ons voor om ’n brug te kan oorsteek, want die ondenkbare versonking in ’n dimensie wat heeltemal onbekend en donker êrens voor ons almal in die pad wink, kan ons nie ontglip nie.

Ons hoop u geniet die koerant ten spyte van die melankoliese toon, of selfs miskien juis daarom.

Op ’n heel ander noot wil ons u aanmoedig om die munisipaliteit se dorpsvergaderings, waar hulle die begroting vir die volgende vyf-jaar dienstermyn verdedig, by te woon. Dit is deur deelneming wat ons verseker dat ons diensgelde sinvol en omsigtig aangewend word.

Mooi wense,

Anneli en Mathabo