top of page

Redakteursbrief – 22 April 2022: ’n Sakeplan wat lesers minag

[OORSPRONKLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 22 APRIL 2022]

 

Een van ons moes onlangs Oos-Vrystaat toe reis, na Bethlehem se wêreld. En daar kom sy af op ’n koerant genaamd Vrystaat Kroon, ’n produk van die Media24-stal.

Voorheen het Bethlehem sy eie gemeenskapskoerantjie gehad – die Vrystaat. Dit lyk dus of dié koerant oorgeneem is, of saamgesmelt het met die gemeenskapskoerant van Kroonstad en dat die produk daarvan nou ’n streek dek so wyd soos die Heer se genade – van Kroonstad tot Bethlehem en selfs Vrede, amper 300km weg van eersgenoemde.

Die koerant het hierso ’n foto’tjie van Clarens se natuurskoon, daarso ’n storietjie oor Vrede se varke, ’n klomp foto’s van Bethlehem skoolkinders en verder is die nuus Kroonstad s’n.

En: die koerant word gratis versprei.

Nou ons het al oor dié soort koerant geskryf (sien Redakteursbrief van 5 Maart 2022), want daar is so een in ons streek ook: Die Hermanus Times pik-pik lukraak storietjies op oor die suid-Overberg, maar skryf eintlik nuus oor Hermanus.

Soms wonder ’n mens of só ’n benadering enige van die dorpe behoorlik bedien omdat sulke koerante hulself so dun smeer.

In die geval van Hermanus Times, verneem ons daar word weekliks sowat 5 000 kopieë van die koerant in die suid-Overberg afgegooi by plekke soos die polisiestasie, die biblioteek, en die hoërskool. Sommer enige plek wat ’n tafelblad of ’n rak het.

(Ons merk dié koerant lees darem ook Suidernuus, want onlangs het hul ons prettigheid om mense te kiek wat die Suidernuus lees en in die koerant te plaas, begin nadoen … Nabootsing is mos ’n kompliment wat voel soos ’n dwarsklap. Nevermind.)

Ons het ook in ons brief van 5 Maart vertel dat die tegniek om sirkulasiesyfers op te blaas deur koerante verniet af te gooi in streke waaroor hulle nie werklik skryf nie, hoofbrekens besorg aan onafhanklike gemeenskapskoerante met hul meer realistiese sirkulasiesyfers. Dit is omdat hulle eenvoudig nie die advertensies kan lok wat dié soort seekat-koerante van groot mediahuise soos Media24 kry nie.

Media24 behoort aan die mediareus Naspers – ’n gigantiese transnasionale maatskappy met belange regoor Afrika, Europa en veral in China. En hy’s aan die publikasies toemaak, left, right en centre, als is nou net digital. So hoekom hou die maatskappy hom op met gedrukte gemeenskapskoerantjies?

Wel, wil lyk dit gaan natuurlik juis oor hierdie advertensie-inkomste.

Die Vrystaat Kroon is so skaamteloos hieroor, sy redaksionele kontakblokkie verskaf kontakte éérs vir ‘head of sales’, dan drie kontakte vir advertensies in Kroonstad en Bethlehem, en dan kontakte vir ‘vacancies’, ’legal notices’ en ‘classifieds’ – almal synde vorme van advertensies of as jy wil, inkomste, vir ’n koerant. Slegs aan die onderent van sy lys is daar ’n kontak vir redaksie. En die redaksiekontak is dieselfde kontak as dié vir advertensies op Kroonstad!

Gaan dit dan nou oor koerantmaak? Of oor geldmaak?

Ons het nog altyd gedink ’n koerant is ’n ding soos ’n brood. Dit is so belangrik vir ’n samelewing dat gewone sakebeginsels in ’n mate tersyde geskuif word. As jy brood bak, dink jy eerstens aan die honger mond wat dit gaan voed, nie hoe jy minder meel kan gebruik om meer geld uit jou baksel te maak nie.

Dis jammer laat-kapitalisme het ’n perversie geskep: dat jy produkte kan maak van so ’n minderwaardige gehalte dat dit geen selftrots weerspieël nie. En dat dit fine is om dit dan af te smeer aan ander mense (selfs verniet) solank jy geld maak daaruit. Dis, soos mens sê, as ’n saak bestuur word deur bean counters. Die kernbesigheid vervaag en die fokus verskuif na geldmaak.

So ’n siniese stelsel is nie op die lange duur volhoubaar nie. Êrens stort dit in duie.

Op ’n ander noot: Suidernuus verskaf ’n paar gratis koerante aan die biblioteke in ons streek. In die gees van gemeenskap het ons besluit om ook ’n aantal koerante verniet af te lewer by die ouetehuise in ons streek (darem nou nie in pakke van 50 nie ...) Geniet hom!

Mooi wense,

Anneli en Mathabo

bottom of page