top of page

Redakteursbrief – 15 April 2022: Die patroon van samehorigheid

[OORSPRONKLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 15 APRIL 2022]

 

In die Middeleeue was die struktuur van dorpe geskoei op die patroon van ’n wiel: In die middel waar die as sit, is ’n kerk. Daaromheen sirkel die geboue waar handel en nywerheid bedryf is, en rondom dié, weer, volg die huise van die dorp se bewoners, wat genestel is aan die sentrale punte van kerk en werk.*

Baie plattelandse dorpe se oorspronklike uitleg weerspieël steeds die Middeleeuse argitektoniese patroon. Dink byvoorbeeld aan Bredasdorp, of Elim, of Napier, met hul kerke wat die middelpunt van die dorp vorm, en rondom die winkels en dan die ou huise.

Dié argitektoniese struktuur is ’n merkwaardige analogie van die hiërargiese patroon wat die antieke lewensuitkyk versinnebeeld en eintlik steeds in party gemeenskappe geld.

As die middelpunt van die gemeenskap staan die kerktoring wat die oog as’t ware ophef na ’n hoër gesag en wat as primêre riglyn ’n geestelike oriëntering opstel.

Die kerk self versinnebeeld liefde. Daarna volg die beginsel van ambag en handel wat beteken die mens, genoop om om te sien na sy fisiese liggaam, moet ook prakties ingestel wees op die materiële wêreld. En daaromheen is die bewoners wat die liggaam van die gemeenskap vorm.

As ’n mens daaroor dink, is dit ook ’n struktuur wat die patroon van die tradisionele huisgesin naboots, en selfs dié van die individu: die kop as hoof van die liggaam, die setel van logos; die hart beliggaam liefde, en die ledemate is die lyf.

Jy kan sê die patroon is ook ’n struktuur van die werklikheid.

Ons funksioneer binne ’n hiërargiese verwysingsraam en dit dien as rigtingwyser vir ’n omvattende en betekenisvolle lewensbeskouing, gesetel binne ’n gemeenskap.

Die interessante ding is natuurlik dat so ’n struktuur samehorigheid aanmoedig. In so ’n kleiner, geordende opset is mense geneig om mekaar te ken en vir mekaar om te gee. Hul behoort tot dieselfde gemeenskap en weet dus van mekaar se wel en weë en reageer dienooreenskomstig op mekaar.

Ons het dit ook onlangs vergestalt gesien in die wyse waarop die kerk, die moskee en kerklike instellings met die verjaging van buitelanders uit hul huise laas maand eerste ingespring het om dié mense te huisves en na hul om te sien.

In stede, waar hierdie patroon ontwrig is, sien ’n mens dat mense ontwortel raak en veral in tye van nood, soos die afgelope twee jaar met Covid, ontredderd en ontheemd voel.

Waar ons in die Paastyd is, is dit gepas om te reflekteer op die aspek van ’n gemeenskap met waardes wat riglyne bied om betekenisvol te leef.

Beste wense,

Anneli en Mathabo


*Ons is erkenning verskuldig aan Jonathan Pageau wat dié struktuur uitwys op sy webtuiste The Symbolic World.

bottom of page