MARIUS PRAAT PLAAS – Saaityd of planttyd?

[OORSPRONLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 8 APRIL 2022]


Die maniere waarop saad in die grond gesit word, is amper so uiteenlopend soos die mense wat dit doen en die plekke waar dit plaasvind. Daar is egter ’n paar algemene beginsels en twee hoofprosesse waardeur dit gedoen kan word. Vandag praat ons ’n paar woorde oor die “ou” manier.

 

’n Tipiese strooier wat gebruik is om saad en kunsmis oop te strooi – hier ’n Magitec. Foto's: Marius Swart


In die verlede is die meeste graan breedwerpig gesaai en met grondbewerking in die grond toegemaak. Dié proses is so oud soos die boerdery self, en word selfs in ’n Bybelse gelykenis vervat.

Dit kan met ’n saaimasjien gedoen word, wat langwerpige bakke vir saad en kunsmis het. Onderin die bakke is daar ratte of rollers met groewe wat in ’n spesifieke verhouding draai om ’n sekere hoeveelheid saad en kunsmis uit te meet. Dit val dan tot tussen veertande of skottels waar dit met grond bedek word.

Die eerste weergawes van hierdie masjiene het ’n “saaikas”, gewoonlik van hout maar later ook van metaal, bo-op ’n skottelploeg gehad. Die saaikas kon afgehaal word, en dieselfde ploeg kon vir primêre grondbewerking ingespan word. Die ouer garde ken nog die verskil tussen 'n “saaikas” en 'n “saaimasjien”.

Latere weergawes van hierdie proses het behels dat kunsmis en saad uitgestrooi is met ’n kunsmisstrooier. Kunsmisstrooiers lyk en werk nes die kalkstrooiers waarna ons laas keer gekyk het, maar dien kleiner volumes materiaal toe en strooi dit tipies oor ’n wyer baan oop.

Die meeste moderne kunsmisstrooiers hang agteraan die trekker, maar daar is ook van hulle wat op wiele loop. Oor hedendaagse strooiers sal ons in die winter in fyner besonderhede gesels.

Proses met sy eie woordeskat

Strooiers voer die materiaal na twee skywe wat vinnig draai en die saad en kunsmis dan oor ’n breë baan versprei. Van die strooiers wat vroeër gebruik is om te saai, was die twee algemeenste fabrikate in ons area die Magitec, wat blou onder en wit bo was, en die Rovic, wat ’n vaal-oranje kleur was, en later kombinasies van rooi en grys.

Daar was ander soorte ook. Die Magitec het ’n saadbak bo-op die kunsmisbak gemonteer gehad vir saaityd en die saad en kunsmis met ’n groot ketting na die skywe gevoer. Die Rovic het weer ’n rubberband hiervoor gehad met die saadbak in die middel en kunsmis langs die kante.

Nog ’n gewilde kombinasie was ’n groen Mercedes Benz-trekker, ’n “MB Trac” of sommer net ’n “Benz”, met een strooier voorop die neus vir die saad en nog een agteraan vir die kunsmis.

Hierdie manier van saai het ’n eie woordeskat gehad wat nou al amper verdwyn het. Daar was ’n verskil tussen “krap”, “losmaak” en “toekrap”, party mense het met ’n “malhaas” gesaai en ander het neergesien op mense wat een nodig het.

Daar was “S-tand-krappers” en “Fieldspans”, en almal weet ’n “Handicult” het die meeste pap wiele gekry, veral op lande met baie kakiebos. Die strooier moes ook altyd ’n paar draaie om die land saai voordat die krappers kon begin toekrap, en saans moes die krappers betyds stop en twee bane van die strooier ooplos.

Krappers wat toekrap het gewoonlik eggies en ’n roller agteraan, soos hierdie John Shearer Handicult.


Strooiers met ‘vlerke’

In ’n stadium was lugdrukstrooiers in die mode. Hierdie strooiers het “vlerke” gehad met pype waardeur die saad of kunsmis geblaas is tot waar dit ’n plaatjie getref het en dan eweredig oor die grond gestrooi is.

Die bekendste handelsmerk by ons was Amazone, maar Rovic het ook ’n model met vlerke gemaak. Hierdie strooiers kon baie akkuraat saai, maar hulle het in die praktyk vinnig weer uitgesterf as gevolg van hoë slytasie en ’n beperkte werkswydte.

Die derde algemene tipe saaimasjien het ook met lugdruk gewerk. Saad en kunsmis is ook in ’n sentrale bak gelaai, met ’n meganisme onderaan wat die regte hoeveelheid uitmeet.

Dan is dit deur wind, afkomstig van ’n groot waaier, deur lang pype vervoer na die planteenheid, wat ’n gewone tandimplement was wat die grond losgemaak en die saad en kunsmis toegegooi het.

‘Seekat-saaimasjien’

Daar was ’n paar fabrikate, maar die meeste hier rond was geel en is deur die Australiese maatskappy Connor Shea gemaak. Daar was ook liggroen Forward-masjiene, en grys Flexi-Coils uit Kanada.

Hierdie masjiene het nogal van agter taamlik na ’n seekat gelyk met al die hangende pype, en ook die bynaam “seekat-saaimasjien” gekry.

Hulle lyk ook eintlik baie soos die hedendaagse planters, waaroor ons volgende keer gesels.

Kyk die volgende paar weke of jy ’n trekker met ’n strooier voor- of agteraan iewers raaksien – miskien is dit ’n groen en oranje Amazone, ’n rooi Rovic, ’n turkoois Sulky, of dalk iets heel anders.

Ons praat binnekort verder.