BOEKERUBRIEK – My eie 84 Charing Cross Road

[OORSPRONLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 29 APRIL 2022]

 

Ek het ’n hele klompie jare gelede as joernalis gewerk in Londen. Dit klink dalk grênd, maar dit was nie. Dit was koud en mistroostig en ek het een jas gehad. Ek en twee ander Suid-Afrikaanse vriende het ’n paar blokke van mekaar aan die verkeerde kant van Londen gewoon. Ver van enige stasie. Ons skoene was gaar gestap en ook nie altyd nommerpas nie.

Maar in Londen was daar twee dinge wat die lewe meer draaglik gemaak het: Daar was ’n bushalte heel naby aan my huis, en een van die busroetes het van daardie halte geloop tot so ’n paar blokke van my werk af. Dit was ’n lang rit: Sowat 50 minute, in plaas van die trein wat my minder as ’n halfuur geneem het. Maar die trein was ’n gejaag, en mense wat teen jou skuur. Geen rus vir ’n mens se siel nie. Die aardigheid van die bus, was dat ek bo kon gaan sit en boek lees.

Henry Pordes Books

Die ander ding was Charing Cross Road. Toe ek in Londen gewoon het, was die straat ’n lushof vir ’n boekwurm. Goed ’n hele straatblok met een boekwinkel na die ander. Ek het vinnig my gunsteling uitgesnuffel: Henry Pordes Books.

Op straatvlak, by die deur, het die bestuurder agter ’n countertjie gesit. Daar was een kasregister, en dit was dit. Die bestuurder het geweet wie kom die winkel in en wie gaan dit uit, en as jy vir iets bepaalds sou soek, sal jy vinnig een van die assistente teen ’n leertjie opstuur om dit tussen die versamelitems uit te haal. Of te beduie waar presies jy kan gaan soek.

Maar vir my was die groot ding van Henry Pordes Books wat ónder straatvlak gebeur het. Van straatvlak af kon jy met ’n smal, onstabiele trappie afklim na ’n keldertjie. Links van die trappie was die muur toegepak met filosofie en reisboeke, en op regs was die lendelam trapreling. Aan die onderpunt van die trap, kon jy dan verder insink in 'n klein kamertjie met tweedehandse wêreldliteratuur. En nog ’n kamertjie aan kon jy die werke van digters en dramaturge kry.

Ek het by die tweedehandse wêreldliteratuur vasgehaak. Enigiets van vertalings van André P. Brink, tot Doris Lessing, en Milan Kundera. En beswaarlik ’n boek bo £4.

Stilte in die maag van die stad

’n Ander aardigheid van Henry Pordes, was dat daardie bepaalde kelderkamertjie van die boekwinkel geen selfoonontvangs gehad het nie.

En so kon ’n mens dus in daardie enorme stad met sy miljoene mense en modern tegnologie sowaar ’n plek in die stad vind waar jy afgesny is van die gedruis. ’n Klein heiligdom van stilte.

Geen manier om uit te chicken

Ek en my een vriendin het gewoonlik ooreengekom om mekaar een Vrydag per maand (gewoonlik na pay day), in daardie kelderkamertjie te kry om boeke te soek. Die afspraak was vir “na werk” – wat enige tyd kon wees.

Ons het gewoonlik met so drie boeke elk daar uitgestap, en dit was dan ons leesstof vir ons onderskeie daaglikse reise werk toe en terug.

Wanneer ons ooreengekom het om mekaar daar in die hart van die stad te kry, was daar geen opsie om planne te verander nie, of ’n boodskap te stuur om te sê “Ek is laat” nie. Dit sou nie help nie. Die ander een sou die boodskap nie ontvang nie. En die ander een sou reeds daar in die maag van die stad besig wees om te delf na boeke.

Vanuit daardie kamer kon ek my busritte werk toe en terug plesierig hou. Ek het oor die tydperk van ’n jaar ’n uitgebreide versameling van Milan Kundera se boeke daar kon aanskaf. Van The unbearable lightness of being tot The Joke. En daardie boekwinkel is ook waar ek my eerste kopie van ’n Orhan Pamuk-boek aangeskaf het.

Dawerende stilte

Vir sowat ’n dekade het ek al wat vriend en vyand is aangeraai om by Henry Pordes Books te gaan draai wanneer hulle Londen toe sou reis.

Die laaste vriend wat ek soontoe gestuur het, het niks veel te sê gehad oor die boekwinkel nie. Dit het ek vreemd gevind, want hy het ’n selfs groter boek-verslawing as ek.

Dis eers toe ek in 2019, ’n paar maande na my vriend, weer in Londen kom, en oudergewoonte my weg Henry Pordes toe vind, dat ek sou agterkom waarom hy maar liewer stilgebly het.

Dieselfde man het nog agter die countertjie gesit, maar die winkel was ’n geraamte van sy ou self. En die man het ook nie meer heeltemal homself gelyk nie. Hy het skaars opgekyk.

Ek is met die lendelam trappie af na my heiligdom. Dit was leeg. Nie ’n enkele boek nie.

Skuins oorkant die straat was daar nou ’n Foyles – ’n kettingwinkel vir boeke.

Hierdie Foyles was oor ses vloere, met ’n restaurant op een van die boonste vloere. Geen tweedehandse boeke nie, maar enige boek onder die son, en in bykans elke taal wat op hierdie aarde gespreek word.

Dis drie jaar later, en Covid was genadeloos. Ek wonder of Henry Pordes Books nog bestaan. En of ’n Henry Pordes Books ooit weer sal bestaan soos destyds.

Vir die leser van hierdie rubriek wat ook ’n gevoel wil kry van hoe Henry Pordes Books was toe hy my suurstof in die grote stad was, kyk gerus die fliek 84 Charing Cross Road, met Anthony Hopkins in die hoofrol. Nee, dit is nie dieselfde plek nie. Maar dit kon net sowel gewees het.