top of page
Marius Swart

MARIUS PRAAT PLAAS – Daar’s ’n seekat op my stoep

[OORSPRONLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 29 APRIL 2022]


Watse vreemde masjiene vol pype en geel tenke en kruiwawiele sien ons skielik in die omgewing? In hierdie aflewering gesels ons verder oor een van die belangrikste punte in die landbou-siklus: planttyd.

 

’n Rovic-planter – mens sien duidelik hoekom lugdruksaaimasjiene en -planters aanvanklik “seekat-saaimasjiene” genoem is. Let ook op die afsonderlike tenke vir verskillende produkte. Foto's: Marius Swart


Van ‘saai’ na ‘plant’

Ons het die vorige keer gepraat oor die “ou” manier waarop ons gewasse se saad in die grond gesit is. Om hierdie soort saaibewerking moontlik te maak, moes die grond vooraf losgemaak word met behulp van ’n skottel- of tandbewerking. Hierdie bewerkings het die grond in wisselende mates omgekeer, met die gepaardgaande verlies aan vog, en verskeie ander nadelige effekte.

So lank terug as 1981, ten tyde van die Laingsburg-vloed, was daar produsente wat begin soek het na ’n beter manier, hoofsaaklik om konstante gronderosie te probeer vermy, maar ook om op ’n sagter manier te werk met ons belangrikste hulpbron – die grond.

Australië en elders

Uit die aard van ons ligging en soortgelyke klimaat, is die graanstreke van Australië ’n logiese plek vir ons plaaslike produsente om nuwe tegnieke aan te leer. Dit was ook inderdaad hier waar een van die pioniers op die gebied, Jack Human van die Heidelbergdistrik, reeds in die vroeë 1980’s bewus geraak het van die nosie van “bewaringsbewerking”. Dit is ’n metode wat fokus op die bewaring van hulpbronne – veral die grond, maar ook water, voedingstowwe, en dies meer.

Die basis van ’n bewaringsbenadering tot graanverbouing is dat die grond so min moontlik versteur moet word, verkieslik net een keer per jaar. Daar is ook beginsels oor gewasrotasie en ander faktore, maar daaroor praat ons ’n ander keer.

Die enkele jaarlikse bewerking moet uiteraard die saad vir die nuwe oesjaar plaas, tesame met die nodige plantvoedingstof in die vorm van kunsmis. ’n Sagte maar ferm saadbed moet geskep word en die oppervlak moet redelik grof gelos word om vog te help opvang. Verder moet die implement wat die bewerking doen, in harde, onbewerkte grond kan indring, en ook groot hoeveelhede oesreste kann hanteer sonder blokkasie.

Die planteenheid op ’n tipiese tandplanter. Die mespuntskaar is voor, dan die saadlepels en heel agter die drukwiel. Die dun pypie agter die saadlepels kan lusernsaad saam met die graan plant. Die hele plantmeganisme loop op ’n parallelogram wat eenvormige kontak met die ongelyk grond verseker.


Die planter

Die tipiese planter wat vandag in die Overberg gebruik word, het ’n sogenaamde mespuntskaar (so genoem omdat dit baie dunner is en die grond minder versteur as tradisionele skare) en ’n drukwiel (wat die planteenheid dra en die saad vasdruk). Die Engelse mense praat van “knife-point and press-wheel systems”.

Die heel nuutste tegnologie doen dit alles met ’n groot ronde metaalskyf wat op die prinsiep van ’n bliksnyer of ’n pizzawiel ’n klein voortjie oopsny vir die saad. Maar kom ons bly nou eers by die “tandplanters”.

Die tandplanter se skaar sak in die grond weg en trek ’n slootjie oop. Aan elke tand is dan ook twee of drie pype geheg. Tipies kom daar kunsmis deur die eerste pyp – dit word tot onderin die slootjie geblaas.

Hierna is daar ’n “saaiskoen” of ’n “saadlepel” – ’n meganisme wat die saad op ’n spesifieke manier plaas. Elke planter se vervaardiger beweer dat hulle manier die beste is – die een gooi die saad onderin die voortjie, die ander druk dit in die kante vas, party blaas dit in twee straaltjies uit en party in een strook. Hierna kom ’n drukwiel en druk die hele storie in die grond vas.

Saad, kunsmis en meer

Voorop die planter is daar twee of meer bakke of tenke. In die tenke sal een of meer soorte kunsmis wees, en natuurlik die saad. Soos ek laas keer verduidelik het, word dit uitgemeet en met behulp van lugdruk deur pype vervoer tot waar dit verdeel word na die individuele tande toe. Daar is kleiner planters waar die bak bo sit en die materiaal met swaartekrag vervoer word.

Die planter kan ook ’n spuitbalk hê om vloeibare plaagdoders toe te dien. Sommige planters het pypies wat vloeibare kunsmis gee, en baie kan ook slakpille uitstrooi as dit nodig is. Ek sal ’n ander keer meer vertel oor die verskillende soorte kunsmis wat gebruik word.

Daar is drie hoofsoorte waarvan jy in hierdie dae baie sal sien. ’n Rooi planter met wit of grys tenke is ’n Rovic (die ouer wynrooi weergawe van dieselfde ding heet “Voor”) – hulle word in Kuilsrivier gebou.

As die planter turkoois is met geel tenke op, is dit ’n Equalizer. Hulle fabriek sit in Brackenfell, en dié planters is ook ’n volledig plaaslike ontwerp wat nou al selfs uitgevoer word. Die groen planter met oranje tenke staan bekend as ’n “Ausplow”, hoewel hulle presiese reeksname oor tyd verander het. Die oorspronklikes het uit Australië gekom, maar ’n plaaslike weergawe word al lank in Albertinia gebou.

Daar word ook ’n goeie planter plaaslik op Swellendam gebou, en baie produsente gebruik planters wat hulle self aangepas het of uit bestaande implemente gebou het. Kyk of jy iets sien wat nié op hierdie lys is nie, en vra ’n bietjie wat dit is.

Commentaires


bottom of page