BOEKERUBRIEK – Jamie Oliver se resepteboek vir die lewe

[OORSPRONLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 22 APRIL 2022]

 

Hierdie week kook ons weer in hierdie boekerubriek. En laat ek ook waarsku: Hierdie boekerubriek begin nie met ’n boek nie, maar dit eindig darem wel met een.

Toe ek en ’n huismaat destyds saam in ’n huis in Westdene, Johannesburg belê het, het dit ’n ruk lank maar taamlik broekskeur gegaan. (En “belê”, sal baie finansiële raadgewers beweer, is die verkeerde woord om te gebruik wanneer dit by huiskoop kom. ’n Mens is mos skaars klaar met werk aan die dak, en die geute wat lek en die geyser wat bars en die tuin wat kompos bygewerk moet word, of jy moet weer begin by die dak …)

Trevor Manuel se appels

Ek het onmiddellik besluit dat dit tyd is vir ’n tydperk van streng fiskale beleid. Ek het in daardie dae nogal baie gedink aan die voormalige minister van finansies, Trevor Manuel, wat na jare van streng fiskale beleid een begrotingsrede begin het deur aan al die lede van die parlement ’n appel te oorhandig. Sy boodskap was dat – na al die jare van die beursie dig hou – dit nou tyd was om stadig maar seker die vrugte van daardie dissipline te begin pluk.

Ek dwaal af. So trek ons in die huis in, en die eerste paaiement gaan af, en ek kyk die agterdeur so, en ek kyk die skroefies in die agterdeur so, en ek dink: Ja, skroefies. Nou is een van julle darem seker al myne.

My huismaat hou van rugby, en so raak rugby-kyk by ’n restaurant op ’n Saterdag heeltemal te duur saam met die huiskopery. Ek maak die somme, en bereken Dstv gaan goedkoper uitwerk. Maar dan geen restaurant-uitstappies nie. Geen koffie by die werk nie. Nuwe onderklere eers weer teen die einde van die jaar – as die begroting dit teen daardie tyd toelaat. Ek draai al die krane toe. Alle uitgawes is tot op die been gerantsoeneer. Manuel het niks op my nie!

As die muis vol is …

So was ek ook maar nog jonk, en ek het in daardie stadium nog nie vreeslik baie kos gemaak in my lewe nie. Maar met dié dat restaurante verbode is, raak kook toe ’n noodsaaklikheid. Ek het darem so ’n halwe gedagte gehad van wat in my ma se bolognese kom. En die slaghuis om die draai se maalvleis is netjies en goed geprys. Ons eet vir ’n paar weke om die beurt spaghetti, kerrie en rys, frikadelle, en soms herderspastei. Na ’n paar weke begin ek so stuk-stuk my smaak verloor vir maalvleis-gebaseerde geregte. Dan eet ons maar wors met mash (ja, ek weet).

Intussen, uit verveling, begin ons tv kyk. En ek ontdek vir Jamie Oliver – die Naked Chef wat destyds die hele Brittanje aan die kook gesit het. Goed. Nie die hele Brittanje nie. Maar die leser sal my die hiperbool vergewe.

En Jamie inspireer vir my. Hy maak kos wat lekker lyk. En hy laat dit maklik lyk. Hy kies kortpaaie, hy volg nie die reëls nie, en hy laat altyd ruimte vir ’n “or whatever you like”.

Sonder om fênsie te wees

Ek ontdek sy webblad waar sy resepte gratis beskikbaar is. Om alles te kroon, praat hy nie fênsie Engels nie. Dit kom uit soos dit uitkom.

Bedags vertel ek vir my een kollega van sy nuutste resepte, en aan watter dis ek die bepaalde aand my hand sal waag.

Saans na werk, stop ek by die winkel en kry die nodige vir die aand se resep. Ek begin stadig maar seker my speseryrak uitbrei (een nuwe spesery per maand). Ek begin koljander aanplant, en pietersiel ie en basi l iekruid. Roosmaryn. Tiemie. Elke aand probeer ek ’n ander resep. Jamie was die wegspringplek, maar nou verken ek verder. Ek kry ’n kookboek met Asiese resepte by die boekwinkel in Melville. Dit was op ’n special: R40. (Ek kook steeds uit hierdie boek.)

Een aand kom my huismaat by die huis, en vind my op die stoep besig om met ’n mes die bestanddele vir ’n Thaise groenkerrie in ’n puree te verwerk. Ons het in daardie stadium nie ’n voedselverwerker nie, en ook nie ’n stamper en vysel nie.

Ek maak botterhoender, chili con carne en pampoenkoekies. Ons vriende nooi ons om hulle by restaurante te kry, maar Trevor Manuel het nog nie laat skiet nie. By ons huis word nie uitgeëet nie. Ons kook saans ’n storm los.

Ek verstom my aan die verskillende dinge wat jy met presies dieselfde bestanddele kan maak. Water, meel, eiers en olyfolie, en jy kan pasta-deeg maak. Vervang die meel met aartappels, en ons maak vars gnocchi.

’n Vriend gee vir my ’n pasta-roller as ’n geskenk. Dinge ruk hand uit.

Jamie in Europa – en Westdene

Met een verjaarsdag, nooi ons 40 mense en maak lasagne vir die hele lot. Ons nooi soveel mense, dat almal dink dit is een van daardie Groot Verjaarsdae. Een vriendin gee vir my ’n Jamie Oliver-mes. Ander vriende kom daar aan met ’n Jamie Oliver-knoffelpers. En my kollega by die werk? Sy bring vir my ’n Jamie Oliver-kookboek: Jamie does Spain, Italy, Sweden, Morocco, Greece, France – Easy twists on classic dishes inspired by my travels.

En dit is met hierdie boek dat ek toe destyds besef het ek kook nie meer agter resepte aan nie. Ek kook nou agter inspirasie aan. Wanneer mense oorkom, is hierdie Jamie Oliver-boek een van menige wat ek deurblaai vir inspirasie.

Ek sien byvoorbeeld: O, ja, daardie bestanddeel wou ek nog op ’n keer probeer. Ek koop gerookte Spaanse paprika, en besef die bepaalde gerookte smaak is ’n bietjie te wild vir my. Maar ’n bietjie komyn by oondgebraaide soetpatats werk nogal lekker.

Ek sien wat hy met skaapboud doen – ek kyk wat hy met die vleis doen, en watter geure hy daar inwerk. Ek boots hom nie na nie. Ek dink, ah, ja. Daardie ding sou ek nogal by my vleis probeer, maar die ander laat ek maar gaan. My resepteboeke brei uit. Ek blaai en kyk en steel met my oog, en dan gaan ons na die Impala-sentrum toe ’n paar kilometer van ons huis en daar laat ons dat die bestanddele ons verder inspireer. Ons kies op wat ons sien vars is en mooi lyk.

Ons leef ons kookboeke in. Hulle voed ons en ons vriende en familie. Hulle gaan oral met ons saam. Hulle is ons inspirasie.