MARIUS PRAAT PLAAS – Alles lyk dalk vaal en lelik, maar …

[OORSPRONLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 18 MAART 2022]


Wonder jy soms waarom sommige graanlande gebrand word? Of waarom party graanlande vol stoppels staan en ander nie? In hierdie splinternuwe Suidernuus-rubriek, gesels Marius Swart oor waar in die landbou-siklus die Overberg tans is, en wat jy sou sien as jy nader aan die lande staan.

 

’n Trekker met kalkstrooier. Foto's: Marius Swart


Dis verstaanbaar dat mense liries raak oor die Overberg se landskap. In die vroeë lente is daar die blokke geel kanola, groen koring en blink gars wat al die handelsmerk van ons distrik geword het. Dan verander dit in reëlmatige rye platgesnyde graan wat ewe gou weer wegraak soos die oes ingesamel word.

Maar nou is ons aan die ander kant van die seisoen, in wat sommige mense sien as die “vaal en lelike” tyd. Niks is meer so mooi groen soos net ’n paar maande gelede nie. Staan jy egter ’n bietjie nader, merk jy op dat alles tog nie heeltemal dieselfde lyk nie.

Hoe lyk dit op die oomblik?

Daar is lande met lusern waarop skape wei, en ander lande is bewerk om die grond los te maak vir die komende koring-aanplanting. Klippe word afgery sodat implemente nie beskadig word nie, grond word gelykgesleep. Daar lê hope kalk, gips, hoendermis, kompos en ander aanvullings om die grond se voedingstatus en gesondheid aan te help.

Jy sien dalk selfs die strooiers waarmee dit op die lande uitgestrooi word. Ons praat van “kalkstrooiers”, maar kalk is maar net een van die goed wat hulle kann toedien.

Plek-plek sien jy dalk ’n land wat van hoek tot kant afgebrand is. Minder as twintig jaar gelede was dit nog in groot areas die norm en is strooi elke jaar uitgebrand en die grond aggressief bewerk – ons is voorgelig dat ’n skoon saadbed sonder enige oesreste die beste oes sou lewer. Vandag kry ons nagmerries oor wat dit aan die grondlewe gedoen het. Om te brand is nou ’n laaste uitweg, maar steeds ’n belangrike hulpmiddel in spesifieke omstandighede.

’n Land wat tydens ’n veldbrand afgebrand het, met kanolastoppels in die voorgrond.


Oesreste, opslag en onkruid

Op die meeste graanlande wat laas jaar gesaai was, is daar graanstoppels van die vorige oes, en basies niks anders nie. Hier word groot moeite gedoen en koste aangegaan om vog en voedingstowwe te bewaar vir die volgende oes.

Hier en daar het probleemonkruid, soos ons sê, “deurgeglip”. Van die tipiese kandidate in die somer is die kakiebos, wat na ’n baie klein kersboompie lyk, en die skraalhans, ’n regop bossie met harige grysgroen blare en fyn wit blommetjies. Daar is nog ander ook. Baie ander. Maar ons praat ’n ander keer oor hulle.

Buiten onkruid en stoppels, is daar ook opslag van die vorige jaar se oes. In Engels noem hulle dit “volunteer”, maar die Afrikaanse woord is meer beskrywend. As jy mooi kyk, sal jy sien dat hierdie opslag in reëlmatige stroke oor die land loop. Dit is waar die stroper laas jaar die strooi en kaf gegooi het, hetsy fyngekap of heel, en daar is ’n groot konsentrasie graan- en onkruidsaad wat dan van die somer se reën ontkiem.

Op sommige lande lê dit in small stroke van ’n meter of twee breed – hier is die strooi waarskynlik gebaal en weggery. Op ander lande vorm dit breër bane – hier is die oesreste oopgeslaan vir ʼn deklaag.

Gars, koring en kanola

Die stoppels self is nie altyd ewe lank nie. Gars en koring word heelwat laer afgesny as kanola – hoogte van ’n koeldrankblikkie, en laasgenoemde op kniehoogte of nog hoër.

Kanola se stoppels is ’n langer, dikker, wit stok, terwyl gars, koring en ander kleingrane ’n korter en fyner stoppel het wat teen hierdie tyd al taamlik verweer en verkleur het. Op sommige lande staan daar jong, groen lusern tussen laas jaar se stoppels. Kyk mooi, en jy sal sein dat die lusern baie keer juis tussen kanola se lang, wit stoppels staan. Die rede waarom hierdie twee saam loop, sal ek oor ’n paar weke verder bespreek.

Die landskap is dalk nie nou so fotogenies soos in Augustus en September nie, maar moenie dink daar gaan niks aan net omdat dit vaal en droog is nie.

En dis juis amper saaityd – of soos jonger millenniërs dit noem, “planttyd”.

Ons praat binnekort verder.