IN DIE OU DAE – ‘Lank gelede se eergisters’

[OORSPRONLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 4 FEBRUARIE 2022]


In haar boek Net om die Hoek van die Hemel verwys Lizette Payne bittersoet na ons argitektoniese erfenis as ‘die eergisters van lank gelede’. Die Overberg is ryk aan dié kosbare erfenis, veral aan huise gebou in die eiesoortige volksboukuns van die streek. Suidernuus het gaan ondersoek instel op Napier.

 

Die blou huisie in Volhoustraat is ’n tipiese voorbeeld van ’n volksboukuns-huisie op Napier. Foto's: Ora Laubscher


Volksboukuns – in Engels ‘vernacular’ – is streekseie boukuns wat gebruik maak van die boustowwe wat natuurlik in die gebied voorkom, soos byvoorbeeld klip- en modderstrukture en rietdakke. Omdat dit streekseie is, druk volksboukuns die unieke stempel van ’n gebied se identiteit af en is daarom van onskatbare erfenisbelang.

Elim se witgepleisterde grasdakhuise en sendinghuise word dadelik voor die geestesoog opgeroep, sowel as die Hotagterklip-huisies van Struisbaai, Kassiesbaai se vissershuisies en Klipdale se eertydse stasie en losieshuis.

Die genoemde geboue is almal bewaar en word in stand gehou danksy omvangryke bewarings-projekte.

Nie al die geskiedkundige geboue van die streek is egter in dié gelukkige posisie nie.

Van die ou geboue in die Overberg het reeds die stryd teen wind, weer of die stootskraper verloor en leef vandag alleen maar voort in sketse, skilderye, ou foto’s, gedigte of stories.

‘’n Pêrel in ons midde’

In Volhoustraat op Napier, skuins oorkant die ewe historiese en ten volle gerestou-reerde Sendingkerk-saaltjie, staan ’n klein blougeverfde huisie gebou in die volksboustyl. Wyle Oom William October het tot sy afsterwe daar gewoon.

Die huisie waarvan die ou bakoond-kombuisie met kenmerkende skoorsteen nog perfek behoue gebly het, staan nog. Die huis is egter erg aan die verval en die deur, wat met planke toegespyker is, en die vensterrame is nie meer die oorspronklike nie. Desnie-teenstaande vertel die huis nog die storie van ’n tyd wat reeds lankal verby is.

Mathilda Burden van Stellenbosch, ’n kenner van argitektoniese volkserfenis, slaan die huisie se geskiedkundige waarde hoog aan: “Die huisie is voorwaar ’n pêrel. Dis natuurlik volksboukuns en nie in ’n spesifieke heersende styl nie.

“Daar is ietsie van die Karoo-platdakstyl daarin, maar beslis ook ’n tikkie Kaaps-Hollandse en Georgiaanse invloed met die klein fronton.”

Weerskante van die blou huisie staan nog twee volkskuns-huisies waarvan een onlangs gedeeltelik deur ’n brand vernietig is.

Die tweede staan op die onderpunt van ’n erf wat aan die eenkant ook aan Volhoustraat front.

’n Deel van die gebou het reeds inmekaargestort en die deure en vensterrame wat van die res van die struktuur oorgebly het, is verwyder.


Een van die twee volksboustyl-huisies langs die blou huisie. Foto’s: Ora Laubscher


Wetlike beskerming

Alle Suid-Afrikaanse strukture wat 60 jaar en ouer is, geniet beskerming onder die Nasionale Erfenis Hulpbronne Wet 25 van 1999. Dit beteken dat dié geboue nie sonder meer gesloop mag word nie. Beskerming in die wet beteken egter nie beskerming in die praktyk nie.

Talle erfenisgeboue lê verwaarloos. Van die grootste uitdagings vir die bewaring van ou geboue is eienaarskap en lewensvatbaarheid.

Dikwels staan die geboue op openbare grond en is fondse vir die opknapping en instandhouding nie beskikbaar nie.

Of soms staan die eienaars van erfenisgeboue ongeërg of kan dit eenvoudig nie bekostig om huisies in stand te hou nie. Die verstandhouding tussen onderlinge belangegroepe op ’n dorp kan bewaringsplanne ook fnuik.

Napier te voet …

’n Inisiatief om ’n roete te ontwikkel met die oog daarop om toeriste te voet te begelei deur geskiedkundige Napier om Volhoustraat langs, het erfenis-geboue soos die blou huisie onder die vergrootglas geplaas.

Burden sê die volksboustyl-huise behoort bewaar te word juis vanweë hul ouderdom en die boumateriaal wat gebruik is in die maak daarvan.

“Daarby moet ook gereken word die skaarste [van die huise]. Die feit dat daar nie meer veel van hulle oor is nie, beteken dat dit sonder twyfel bewaar moet word,” sê Burden.

Dit sal egter van die lede van die gemeenskap van Napier afhang, wat die toekoms vir dié kosbare erfenis inhou.

Kulturele en kommersiële waarde

Die bewaring van streekseie argitektuur kan van groot waarde wees vir dorpe omdat kulturele erfenis ’n groot lokaas is vir toeriste. Dit is ook ’n feit dat historiese eiendomme weens hul geskiedkundige belang dikwels ’n premie behaal in die eiendomsmark.

Bredasdorp het oor die jare ook al heelwat aan erfenis-geboue ingeboet en daar het min behoue gebly van die tradisionele bakoond huisies.

Die bewaring van hierdie onskatbare erfenis is nie net belangrik vir toerisme en kommersiële oorwegings nie. ’n Beskawing wat sy erfenis bewaar getuig daarvan dat hy sy verlede en tradisies eer en nie sonder meer ontkoppel van die verlede ontwikkel nie.