top of page

BOEKERUBRIEK – Visse vreemder as fiksie

[OORSPRONLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 18 FEBRUARIE 2022]

 

Foto’s van die enorme marlyn wat vroeër vandeesmaand in Struisbaai wal toe gebring is, het my laat dink aan ’n ander groot vis in ’n ander groot storie.

Want kyk jy na daardie foto, weet jy: Party visse is – soos die waar[1]heid – ook soms vreemder as fiksie.

Ek het natuurlik gedink aan Ernest Hemingway se The old man and the sea waarin die hoofkarakter diepsee toe gaan in ’n laaste desperate poging om ’n groot marlyn te vang. Een van die heel grotes.

’n Mens wil nie die boek bederf vir diegene wat dit nog nie gelees het nie, maar kortom: Die visserman vang die Groot Vis, maar dit kos hom byna sy boot en byna sy lewe. En die vis…? Nou, ja. Lees maar self as jy nog nie het nie. Die boekie is dun en lees lekker.

’n Buurvrou van my stuur verlede jaar vir my ’n webskakel na ’n ander verhaal wat Ernest Hemingway waarskynlik in die 1930’s geskryf het, maar wat in 2020 vir die eerste keer aanlyn gepubliseer is. Dié verhaal handel oor ’n man wat sy vakansie aan die Kubaanse kus deurgebring het op jag na marlyn. Die parallelle tussen die twee verhale is merkbaar.

‘Pursuit as Happiness’ word as ’n kortverhaal aangebied, maar jy kan jou maklik misgis dat dit ’n artikel is oor die skrywer se vakansie. Die hoof-karakter se naam is ook Ernest Hemingway en hy is ook ’n skrywer.

‘The big ones’

Mr. Josie – die man op wie se boot Ernest marlyn jag – moedig hom aan om na die eerste maand vir nóg ’n maand die boot te huur en te wag vir wanneer die “big ones” kom.

“Carlos says they’ve got to come in this next month,” he said. Carlos was our Cuban mate and a great commercial marlin fisherman. “He says he never saw such a current and when they come they’ll be something like we never seen. He says they’ve got to come.”

Mr. Josie stel voor dat Ernest gedurende die tweede maand die sosiale lewe ’n bietjie afskaal. “The social life is what wears you out, Cap. But I don’t mean none at all. Just take it on Saturday nights.” En dat Ernest soggens vroeg moet begin skryf “and you can get a day’s work done by eight o’clock. Carlos and I’ll have everything ready to go and you just step on board.”

Mr. Josie meen die visse wat gaan kom, is “the kind that can run over a thousand pounds”. (Ek verstaan die een wat op Struisbaai gevang is, het die skaal by 700 pond getrek?)

Kom ons spaar die storie vir die leser en keer terug na die waarheid wat soms vreemder is as fiksie. Is ‘Pursuit as Happiness’ fiksie of outobiografies? Dit is ongetwyfeld sterk outobiografies. En gegewe die outobiografiese aard van dié verhaal, en hoe dit ontvou, sou geen leser kwalik geneem kon word indien hulle sou aanneem dat The old man and the sea deur hierdie ervaring in Hemingway se lewe geïnspireer is nie.

Volgens die Britse koerant The Guardian, meen Hemingway se kleinseun, Seán Hemingway dat die storie bepaald sterk outobiografies is. Hy verkies egter om daaraan te dink as “invention”.

“It is certainly possible that the story was inspired by a particular fishing trip in the summer of 1933, when the story is set, but in my opinion it was more likely inspired by several different experiences, to which the author has added fictional elements that improve upon the story,” haal The Guardian vir Seán Hemingway, die skrywer se kleinseun, aan.

Miskien is ‘Pursuit as Happiness’ dus die effe gefiksionaliseerde weergawe van die werklikheid. ’n Skrywer se verskillende vakansies as marlynvanger versmelt in een verhaal. (Onthou ons almal nie soms ons jeugvakansies later as een lang vakansie nie?)

Maar The old man and the sea is wat uitdaardie ervarings gebore is. Dit is nie die ervaring nie. Dit is wat daarna kom. Dit is die produk van ’n diepgaande kreatiewe proses. Die storie is toetentaal fiksie.

Of is dit? Want daardie verhaal, kan ons vermoed, sou slegs moontlik gewees het as Ernest Hemingway destyds aan sy eie lyf gevoel het – soos in ‘Pursuit as Happiness’ – hoe een van die “big ones” met die visserman se lyf kan stoei.

In ’n stadium stoei die hoofkarakter in ‘Pursuit as Happiness’ reeds vir sowat vier ure. Ernest se lyf moet afgespons word. Toue moet geruil word. Hande wil meegee. Die stok buig in ’n stadium so ver om dat sy punt aan die water raak. Dinge raak tegnies. Aldus Mr. Josie:

“Carlos says he’s coming up. He says he caught so much air jumping he can’t go deep and die. He says that this is the way the big ones always act at the end when they’re jumped a lot. I counted him jumping thirty-six times and maybe I missed some.”

Kan iemand wat nog nooit ’n marlyn gevang het nie, só oor marlynvang skryf?

In ’n stadium vra Ernest vir Mr. Josie waaroor hy meen hy moet skryf. Een van Mr. Josie se voorstelle: “Why don’t you write one about just things that you and I know?”

bottom of page