BOEKERUBRIEK – ‘Reading and making war… they don’t go together’

[OORSPRONLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 8 APRIL 2022]

 

Ek reis graag, maar ek hou nie baie van vlieg nie. Soos die noodlot dit wil hê, bevind ek my die laaste twee jaar of so in ’n situasie waar ek feitlik glad nie reis nie, maar gereeld vlieg.

Die gevlieëry is omdat ek tussen die Kaap en Johannesburg pendel. (En die gebrek aan reis is natuurlik weens virus-verwante inperkings.)

Roetine maak die pendel beter: Soveel uur voor my vlug bestel ek ’n Uber. Met aankoms by die lughawe, gaan ek dadelik deur sekuriteit, koop iets te drinke, ’n pakkie soetgoed en gaan sit by my hek. En dan begin ek lees.

Ek lees in die ry by die hek, en ek lees terwyl ons wag vir almal om klaar gevroetel te kom by hul sitplekke, ek lees al die pad oor Bloemfontein en die Groot Karoo en anderkant uit. So reis ek deur ander landskappe terwyl ek in ’n metaalkapsule oor die land heen skuif.

Menige van die boeke op my boekrak is minstens gedeeltelik op ’n vliegtuig gelees. Verlede jaar onder meer Ingrid Winterbach se Voorouer. Pelgrim. Berg. En Lauren Groff se Matrix, ’n verhaal oor Marie de France, ’n digter uit die twaalfde eeu. En Damon Galgut se The Promise wat aan hom die Bookerprys besorg het.

In The Promise reis die leser saam met die hoofkarakter, Amor en haar gesin terug na die familieplaas vir haar ma se begrafnis. Dis die wêreld in en om Pretoria in die vorige bedeling. Soos met die meeste goeie boeke, is The Promise egter nie net ’n reis terug in tyd en plek nie, maar ook in die aard van die mens. Nog begrafnisse volg. En begrafnis na begrafnis rafel dié reis uit.

Boeke, begrafnismat, ’n gym-sak

Maar terug by my gevlieëry. So leer ’n mens met die gependel ook die kultuur van Uber-bestuurders, en wat om in ’n Uber-motor te verwag. In die Kaap is daar byvoorbeeld ’n neiging om begrafnismat te gebruik as voetmatjies. In Johannesburg het ek dit nog nie gesien nie.

Die kattebakke wys soms iets van die persoonlikheid van die bestuurder. Ek het al ’n gym-sak of twee gewaar, ’n sakkie inkopies, ’n beursie en soms ’n handdoek oor die oppervlak om te keer teen die reën.

Soms is daar in die kattebak ’n groot kan water, dan wonder ek of die kar dalk soms oorverhit. Soms ’n warmhouer van die bestuurders wat ook Uber Eats aflewer.

Maar nou die dag maak ek die kattebak van nog ’n Uber oop en daar lê ’n stapel boeke. Dit is nuut vir ’n Uber. Dit is anders. Vreemd.

Ek klim in, gordel my vas en vra vir Audience, die bestuurder: “Wat maak jy met die boeke?”

“I read them,” sê Audience. Natuurlik. Wat anders maak ’n mens met boeke?

Hy vertel my dat hy soggens om 4:00 begin werk, maar gewoonlik kom die eerste versoek vir ’n geleentheid eers so om 5:00 deur. “Every morning between 4:10 and 5:00, I read.”

Ek beny hom onmiddellik ’n uur se leestyd per dag.

Ons is skaars twee verkeersligte weg van my huis in Johannesburg, en ek en Audience is dit reeds eens dat die wêreld ’n beter plek sou wees as meer mense gelees het.

“Reading and making war… They don’t go together,” sê Audience. Maar, wys hy uit, daar is nie genoeg van ons in die wêreld wat lees nie. Ons is maar ’n handjievol teen die oormag nie-lesers.

So, die oorloë sal seker maar aangaan.

Abjater wat so lag

Op die vliegtuig lees ek my halfpad deur Wilma Stockenström se Abjater wat so lag totdat ons tussen die wolke begin afskud Kaapstad toe. In Abjater is die hoofkarakter se reis weer dié van ’n versorger van siekes – en dus soms die een wat ver op die pad langs saamreis wanneer daardie sieke die laaste stukkie pad moet stap hiernamaals toe. En soms daar verby, as ’n afwesige toeskouer:

“Met ’n blik op die straat wat na die begraafplaas gaan, so het ek my stoel getrek en ek volg die dode met my oë na sy laaste seremonie en sy troubelofte aan die donkerte en onthou hoe sy mond oopgeval het voor die wonder van die vreemde. Maar hoekom was hy so verbaas?”

Elke reis het natuurlik ’n einde.

Aan die Kaapse kant is die laaste stukkie van my tog saam met nóg ’n Uber-bestuurder. Hierdie keer is dit ’n ouer man met die naam Mishack. Hy vra van waar ek pas aangeland het, en of hierdie kant huis is of daai kant. Vir ’n oomblik weet ek nie wat om te antwoord nie.

So, ek antwoord toe maar eerlik: Met die gependel is ek nie meer aldag seker waar huis is nie.

Hy lag. Ek lag maar saam, al is dit ’n ernstige saak.

“I guess I have to carry ‘home’ around inside me,” sê ek. “A bit like a tortoise would carry his on his back.”

Mishack lag weer. “You should become a writer,” sê hy. “You should write a book one day.”

Ek lag maar weer. En hy lag saam. Ons ry so kekkel-kekkel by die lughawe uit.

“Huis” toe.