BOEKERUBRIEK – Om te ervaar in die oomblik – wat rugby ons van lees kan leer

[OORSPRONLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 25 MAART 2022]

 

’n Klompie jare gelede het ek in my navorsing gestrompel oor die werk van Hans Ulrich Gumbrecht. Hy is van Duitse herkoms, en werk as letterkundige aan die Universiteit van Stanford in Amerika.

Die boek van hom wat my oog gevang het, het ’n fênsie titel: Production of Presence – What meaning cannot convey.

Ja, dis ’n akademiese teks. Maar daar is iets beeldskoon aan dié boek. In hierdie boek (en ek parafraseer ruim) gebruik Gumbrecht akademiese redevoering om te verduidelik waarom hy meen dat ’n suiwer akademiese benadering tot die kunste iets van ons roof.

Wat dit van ons steel, as ek nou kan aanhou parafraseer, is naamlik daardie oomblik waarin ons as leser of kyker die kunswerk as iets moois of besonders ervaar. Daardie oomblik waar ’n mens hoendervleis kry, of ’n blos op die wange, of dalk sommer goed ergerlik raak.

Sy punt, kortom, is dat dit dikwels so in ons ingedril is om te probeer om die betekenis van ’n boek of ’n gedig of ’n kunswerk vas te stel, dat ons onsself ontneem van die kans om weggevoer te raak deur die skoonheid daarvan.

Ons laat nie meer toe dat die kunswerk of die poësie ons aanraak nie, want ons wil dadelik verstaan waaroor dit gaan en wat die skrywer daarmee bedoel.

Hy wil darem nie die baba met die badwater uitgooi nie. Sy voorstel is Boekerubriek Anneli Groenewald bloot dat ons nie onmiddellik moet oorgaan tot ontleding nie, maar onsself eers moet toelaat om die kunswerk te ervaar vir wat dit is.

En hy het dit nie net oor kuns en skryfwerk nie. Hy is ook ’n groot aanhanger van Amerikaanse voetbal, en sê daar is ’n ewe sterk krag teen w oordig ten aanskoue van ’n atleet wat meesterlik is.

Dink maar aan die oomblik wanneer een van jou gunsteling Springbokke lostrek doellyn toe en met fyn voetwerk die opponente se ganse agterlyn systap. Die hele stadion oombliklik op hul voete! Dit is na daardie oomblikke dat Gumbrecht verwys. Wanneer ’n kunswerk of ’n gedig of ’n rugbyspeler speler of swemmer iets met soveel tegniek, talent en toewyding doen, dat dit jou wegvoer.

Stel jou nou voor dat jy daardie oomblik probeer briek om eers vir ’n oomblik te wonder wat ’n bepaalde drie beteken, eerder as om saam met die skare te vier?

Dít, as ek Gumbrecht se argument reg verstaan, is die oomblik waarvan lesers hulself stroop as hulle ’n briljante stuk skryfwerk lees en dan – pleks van om toe te laat dat dit hul meevoer – dadelik begin kantaantekeninge maak oor die betekenis, styl en struktuur van die teks.

Natuurlik is daar party rugbyspelers wat baie beter is daarmee om die skare op hul voete te kry as ander. Spoed, vernuf, die vermoë om die spel en die ander span te kan lees, dra alles by tot die perfekte oomblik wat ’n bal onderskep word en ’n speler pale toe nael.

Dieselfde geld, by wyse van spreke, vir skrywers.

Gumbrecht meen dat daar bepaalde elemente in skryfwerk is wat daardie briljante oomblikke teweeg bring. Goeie skrywers wend hul vaardighede op só ’n wyse aan dat die leser as’t ware in die skrywer se strik val.

Sulke skrywers kan byvoorbeeld met onder meer die gebruik van leestekens bepaal teen watter spoed of ritme jy lees (en die leser sal dit nie eers agterkom nie).

Hulle kan só oor kos skryf dat jou mond sal water.

Die leser het dalk die ambisie om ’n teks te lees sodat hulle dit kan ontleed. Maar voordat jy jou kom kry, is jy geheel en al meegesleur deur die teks – dis daardie oomblikke wanneer Breyton Paulse afsit doellyn toe.

Jy vergeet dat jy lees vir tegniek, en vir styl en struktuur. Jy staan ín die wêreld van die boek en eers ’n paar bladsye later besef jy die potlood lê doer.

Maar jy weet dat wat jy tans gade geslaan of gelees of na geluister het… jy wéét net dit is briljant. Meesterlik selfs.

En dan kan jy terugkeer na die eerste bladsy en begin kyk na wat dit dan is wat hierdie bepaalde skrywer anders gedoen het as ander skrywers.