top of page
Anneli Groenewald

BOEKERUBRIEK – My ouma lees Audrey Blignault en lag stil-stil

[OORSPRONLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 28 JANUARIE 2022]

 

“Het spoke nekke?” vra my ouma vir my. Sy sit op haar bed met ’n boek in die hand. Geen ongewone posisie vir haar nie. Ook nie ongewoon dat sy die boek se geselskap soms bo dié om haar verkies nie. Ek is heel dikwels aan dieselfde gedrag skuldig.

Ek besef die vraag oor die spoke moet uit die boek kom. Ek vra haar wat sy lees. Sy draai die omslag na my toe: Die plesierboom deur Audrey Blignault. Ek vra haar hoe die boek is – ’n bekentenis dat ek dit self nog nooit onder oë gehad het nie. “Mooi,” antwoord my ouma. “Soos wat nét Audrey kon skryf,” voeg sy by, asof sy vir oorle Audrey persoonlik geken het. (En dit is nie ontmoontlik nie – oor die jare heen het ek geleer om my ouma nie in enige ding te onderskat nie.)

’n Vriendin het al vantevore haar een wenkbrou vir my gelig toe sy verneem dat ek nog nooit Blignault se skryfwerk gelees het nie. Op so ’n “maar jy is dan van Bredasdorp, wat is dan fout met jou?!”-manier.

Pêrels voor die swyne

In my verweer: Audrey Blignault is uiteraard voor my tyd. Ek onthou wel dat sy die dorp besoek het toe ek so 9 was, en dat dié besoek ’n praatjie by Laerskool Bredasdorp ingesluit het. Sy moes toe reeds diep in haar 70’s gewees het. Met ons klomp kleintjies, was haar woorde waarskynlik daardie dag pêrels voor die swyne.

Maar Blignault, wat natuurlik in Bredasdorp getoë is, was dan nou nie heeltemal so ver voor my ouma se tyd nie.

En my ouma verkneukel haar nou duidelik aan Die plesierboom. Spesifiek aan die stuk getiteld “Het spoke nekke?” oor al die vreemde vrae wat deur die wêreld sweef – dikwels vrae met geen antwoorde nie.

“Die spoke wat ék al teëgekom het, hét nekke,” sê ek vir haar. Dis goed om te weet, sê my ouma. As sy een teëkom, moet sy darem weet hoe hoog sy met haar kierie moet mik, en sy beduie hoe sy beplan om haar pothou te plant.

Toe sy klaar is met die boek, leen ek dit by haar. En ek begin my op my beurt verkneukel aan die gevatte Afrikaans en die bekendheid aan die streek wat in baie van die verhale in dié boek na vore kom.

Die aweregse soort

Blignault, skemer dit duidelik deur, het ’n aweregse streep gehad (seker ook dié dat my ouma haar stories so geniet …), en ’n broertjie dood aan mense wat nie behoorlik kon gesels nie.

Sy het dit veral oor mense wat langs jou aan tafel beland en nie hulle deel doen om die gesprek te laat vlot nie. Een bepaalde tafelbuurman het haar heel “uitgekuier” gehad:

Ek vra hom na sy werk, na sy kinders, na die plek waar hy woon. Al drie is blykbaar van ’n onnoem-bare aard. Ek probeer die suidoos in die Kaap. Nee, ek sien sommer die wind waai hom nooit raak nie. […] Het hy al seekat geëet? Of branderplank gery? Of ’n voorbode gesien? Nee. Nee. Nee.

[…]

Wanhoop dryf my tot stuitlikheid, en as ek my kom kry, vertel ek hoe my ma ’n hele blik turksvye op ’n slag kan opeet, hoe my man die kaalmeisiedans met ’n geel stoflap kan doen, en hoe die ouderling in dominee Viljoen se studeerkamer lank na die afdruk van Leonardo Da Vinci se Laaste Avondmaal gekyk het en toe gesê het: “Wil jy glo, dominee, van die hele ou lot ken ek net vir generaal De Wet.”

Dit is nie vir hom snaaks nie. Hy lag glad nie. Hy drink net nog druiwesap.

Sy skryf oor ’n tyd op Bredasdorp en omgewing wat my ’n paar generasies voor is – en miskien ook vir baie van ons lesers. Maar die vanne lui nog klokkies, die Standard Hotel staan al, die kinders doen reeds kwaad in die ou sloot, en familie kom kuier van Swellendam af. En die bioskoop was nog waar die gim nou is.

Die bekendheid van die Overberg is verweef met insig en deernis in die alledaagse en in die mens neffens jou.

In die stukkie getiteld “Daddy Teall”, skryf sy:

Hy was daardie kenmerkende verskynsel wat later in dié eeu van oorloë so algemeen sou word: 'n ontwortelde mens. Maar in die tyd toe ek hom geken het, was daar vir my niks vreemds aan hom nie. Hy was maar Daddy Teall en net so deel van ons dorp soos die grys kerktoring, dominee Viljoen se Pastorie en die wit kalkrand agter die stasie.

As jy lief is vir lees, en jy woon in die Overberg, of het in die Overberg grootgeword, en het nog nooit Audrey Blignault gelees nie, dan gaan ek ook nou soos my vriendin my een wenkbrou vir jou lig en na jou loer asof ek wil sê: “Maar jy is dan van hier? Wat is dan fout met jou?”

Comentários


Os comentários foram desativados.
bottom of page