BOEKERUBRIEK – ‘Brownies for one’ – Stel jou voor Nigella Lawson was ’n romanskrywer

[OORSPRONLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 4 FEBRUARIE 2022]

 

Dis nou alles goed en wel om ’n Nobelpryswenner se boeke te kan lees en te kan verstaan, maar hulle is darem waaragtig nie die enigste mense wat kan skryf nie. Ja, Suid-Afrika het nou wel vir JM Coetzee en Nadine Gordimer. En natuurlik ook soveel ander plaaslike skrywers wat die woorde kan laat sing.

Maar ek put eindelose genot uit enige ding wat lékker geskryf is. Lekker skryfwerk kan ’n mens soms op die raarste plekke vind. En heel dikwels is dit basies in die koekieblik weggesteek.

Lees ’n bietjie hier:

Of course, peeling a potato is not exactly mindless, but unless one has never peeled potatoes before, it is not something that requires hyper-vigilance. It’s quietly absorbing. And as someone who is terminally fidgety, I am gratefully soothed by the many necessary low-level kitchen rituals that constitute cooking.

Dit is dan nou niemand anders nie as die Britse tv-sjef, Nigella Lawson, in haar kookboek Cook, Eat, Repeat wat in 2020 verskyn het. In die paragraaf hierbo het sy dit oor hoe die reëlmatige take van die kombuis haar sus.

Nigella skryf oor kos en oor kook soos wat ek graag wil dink oor skryf en lees. Dit moet natuurlik bepaalde (skryf)reëls navolg, maar dit moet ook ’n bietjie skop hê en plesier verskaf. Sy tref self ook die vergelyking tussen kosmaak en skryf. Maar ek trek die metafoor graag verder. Ek verbeel my soms sy skryf oor die skryfkuns, en dan kyk ek wat ek oor skryf kan leer deur te luister na hoe mense kosmaak benader.

Sy skryf byvoorbeeld: For cooking, like life (en hier voeg ek stout by “and writing”) in order to be manageable, enjoyable even, relies on both structure and spontaneity. We all need a framework, but we also have to know when to break free and just go with the flow. And this is something you learn as you go along.

Om betekenis in die alledaagse te vind, is miskien minstens een van die dinge waaroor skryf werklik gaan. Dit beteken dat ons soms maar wel kookboeke kan lees asof dit swaar letterkunde is. En soms vir die pret. Lees byvoorbeeld nou die volgende teks asof dit in ’n boek deur die onlangse Booker-pryswenner uit eie bodem, Damon Galgut, geskryf is (eerder as Nigella), en kyk wat gebeur met die teks:

Because one is doing something so familiar, so unthinkingly rehearsed, one isn’t on high alert, but can let the senses – touch, smell, sight, sound – take over from intellect. Indeed, in all cooking one has to learn to let the senses take over: onions caramelizing in a pan start sounding different as they cook; a cake in the oven smells suddenly more of itself when it’s ready. It takes practice to trust your senses, but essentially that’s what cooking is: a practice, like doing yoga is a practice, and not a performance.

Ek sou wou dink dat lees en skryf ook so ’n tipe ding is: ’n Soort ambag waarin jy staan en wat jy beoefen in ’n poging om jouself steeds dieper in te grawe. Dit moet nooit wees met die oog op afshow nie.

Gun my ’n laaste spel met Nigella se woorde. Vervang “Food” in die teks hieronder met “Reading” of met “Writing”:

Food, for me, is a constant pleasure: I like to think greedily about it, reflect deeply on it, learn from it; it provides comfort, inspiration, meaning and beauty as well as sustenance and structure. More than just a mantra, ‘cook, eat, repeat’ is the story of my life.

Gaan Nigella die Bookerprys wen? Nee. Sy skryf dikwels in ellelange sinne wat soos derms aanhou ryg. Sy skryf soos wat sy praat, en sy praat soms maar in vreemde rympies. Soms dink ek as jy haar nog nie op tv hoor praat het nie, sal jy glad nie kan volg wat sy skryf nie. En daar is uiteraard geen storie aan om van te praat nie. (Sy gee haarself darem nou ook nie uit as ’n romanskrywer nie.)

Maar ek sal haar dit vergewe. Al is dit net omdat sy onder meer ’n brownie-resep op haar webtuiste het onder die titel “Emergency brownie”. ’n Resep vir een mens, en dus vir net twee blokke (of vir vier blokkies “if the need is not so great”). En die resep is gratis.

Soos wat die nimlike Nigella self skryf:

A recipe, much like a novel, is a living collaboration between writer and reader. And in both cases, it is the reader who keeps it alive.