BOEKERUBRIEK – Boekwurms lyk dalk sommerso, maar ‘watch’ ons…

[OORSPRONLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 11 FEBRUARIE 2022]

 

Ek het ’n broertjie dood aan die gebruik van dwelmmiddels. Ek is uitgesproke daaroor. En onversetlik. ’n Goeie vriendin stem grootliks met my saam, maar toe ek die ander dag weer daaroor uitvaar – spesifiek oor die “mind-altering” impak wat middele op mense kan hê – trek haar rug styf en spreek sy my ferm aan oor die bepaalde woordkeuse: “Jy besef jy lees boeke wat mind-altering is? En jy gaan na boekpraatjies toe wat mind-altering is.”

Sy het my van balans af. Ek soek vir teen-argumente, maar op daardie oomblik het ek toe geen onmiddellike verweer nie.

“Dit is onvergelykbaar,” antwoord ek (en ek staan hierby).

“Hoe?” vra sy.

Ek kyk na haar om te sien of ek darem ’n sweempie van ’n glimlag gewaar. Sy grap sekerlik. Maar in plaas van ’n vonkel in die oog, sien ek sy wag heel ernstig dat ek my argument moet staan maak.

Stilte.

Ek soek na ’n blink antwoord, maar ek dink aan die boekpraatjie wat ek in daardie stadium beplan het om dieselfde aand nog by te woon. ’n Gesprek tussen Pieter Fourie wat The heart is the size of a fist geskryf het, en Bredasdorp se eie Marius Swart wat dié boek in Afrikaans vertaal het. Ek het in daardie stadium reeds met Pieter en Marius gesels oor die boek, en ek het geweet dat dié boek en die aand se gesprek so reg in die kraal is van wat ek en my vriendin aan die bespreek is: Boek-goeters wat mind-altering is.

Maar hoe durf my vriendin my op hierdie punt probeer snoeker? Suiwer op morele gronde is sy tog reeds hier besig met ’n argument wat nie kan water hou nie.

Pleks van ’n lekker en reguit antwoord wat haar op haar plek sal sit, gebeur iets anders egter: Soos lede van ’n koor, spring die titels van boeke binne my op. Daardie boeke wat my as mens verander het. Party boeke verskuif ’n mens se oog met die kleinste aks; ander stuur jou op ’n heel nuwe wentelbaan. Maar enige boek wat sy sout werd is, verruim jou wêreld – ongeag wie jy is of waar jy woon of waaroor jy droom.

Ek het as laerskoolkind reeds my oë tot in ’n bril in gelees (ek het wel eers op 15 toevallig besef dat dit tyd is vir ’n bril – dit is ’n storie vir ’n ander dag). Die biblioteek op Bredasdorp het ’n groot rol hierin gespeel. Dit was vir my ’n oase. My boeke-reis het agter in die hoek begin nog voordat ek kon lees. Toe ek maar nog net kon prentjies kyk.

Groot was die opwinding toe ek met my eie biblioteekkaartjies kon begin boeke uitneem. Selfs groter toe ek oud genoeg was om te kon aanskuif na die afdeling vir jeugliteratuur. En aardskuddend toe ek uiteindelik hier by 16 rond in die “grootmensboeke” kon begin lees. Van Anna M. Louw se Vos, tot Etienne van Heerden se Kikoejoe, André P. Brink se Kennis van die aand en ’n Droë wit seisoen. En Rian Malan se My traitor’s heart.

Noem maar op. Die dorp se biblioteek het die wêreld voor my voete neergesit. Ek kon dit maar net optel en begin lees.

Dit was, inderdaad, ja, mind-altering.

Maar die eenvoudige antwoord aan my vriendin is eintlik voor die hand liggend. Boeke help ons om die wêreld beter te verstaan en om moontlikhede raak te sien en ons potensiaal te verwesenlik. Dit verarm ons nie. Dit steel nie ons moontlikhede en ons potensiaal nie. Dit vernietig nie.

Hier is ek nou ’n paar dekades later steeds brildraend besig met hierdie mind-altering stokperdjie. Ek lees op vliegtuie en in treine en op busse. Op eilande en langs riviere en langs die see, en wanneer ek in die dokter se spreekkamer sit en wag.

Ek en my mede-lesers lyk dalk op die oog af aan die saai kant. Maar watch ons. Julle nie-lesers weet nie wat ons alles van die lewe weet of vermoed nie. Julle weet nie wat ons al alles gelees het nie.