BLIK VAN BINNE – Oor geraas

[ORIGINALLY PRINTED IN SUIDERNUUS, 4 MAART 2022]

 

Ek het eenkeer gelees dis wetenskaplik bewys dat mense aan alles gewoond raak, behalwe twee dinge: meganiese geraas en borsinplantings.

Daarmee meen hul nou: vir vroue wat borsinplantings gehad het voel ingeplante borste altyd soos nuwe speelgoed. Ek sal nie weet nie, want ek het nog nie een gehad nie.

Ek kan wel beaam dat ek van geraas my lewe lank las het. Nee ek jok: dis ’n marteling. Ek sal nooit daaraan gewoond raak nie.

Trouens, as enigiemand my sou vra om in hul outograafboekie te skryf, sou ek Arthur Schopenhauer se opstel On Noise aanhaal. Ek voel so sterk daaroor ek kan sonder aarseling daarop aanspraak maak as my persoonlike hymne.

Schopenhauer skryf (ek parafraseer): “… Die oorvloedige tentoonstelling van vitaliteit, in die vorm van ’n geklop, gehamer en getuimel, is ’n lewenslange marteling.

“Daar is mense wat skouers ophaal oor sulke goed want hulle is ongevoelig vir geraas. Maar hulle het presies die soort gehoor wat ongevoelig is vir kop- en kunswerk, die woord, poësie of ’n goeie argument. Dis omdat die weefsel van hul brein van besondere growwe kwaliteit is.”

“Die skandaligste van alle geraas is die klap van die sweep – dit maak ’n dekselse lawaai in die smal, weergalmende stegies van ’n dorp. ’n Vreedsame bestaan is haas onmoontlik want die stilte waarin idees gedy, word aan flarde geruk.

“Dat die klap van die sweep hoegenaamd veroorloof is, bewys die sinloosheid, die genadeloosheid van die mensdom. Niemand met die kiem van ’n gedagte kan anders as wesenlik gekwes voel as ’n sweep klap nie.

“Dit verlam die brein en verbreek die spinnerak van bepeinsing. Die uitwerking op denke is rampspoedig. Die sweepklap sny deur die senings van ’n idee nes ’n byl ’n veroordeelde se nek klief.”

Hoe verheugd sou Schopenhauer nie wees om te hoor die sweep het in ons tyd in onbruik verval nie! Maar hy sou nie wou leef in die smal, weergalmende stegies, of eerder op die breë hoofweë van ons moderne tyd nie.

Want die volume gekap, gehamer en getuimel het duisendvoudig toegeneem, aangevuur deur tegnologiese vooruitgang, sonder twyfel uitgedink met die doel om mense, hande oor die ore, die harnas in te dryf.

Dis ’n kakofonie wat bulder uit padbrekers, kragbore, dieselenjins, rotohamers, slopingsballe, sweismasjiene, staalsnyers, slypmasjiene, sandspuiters, betonbeitels, beitelbore, kettingsae, kragopwekkers en duisende ander meganiese goed waarvan geeneen die name meester is nie.

Die nuutste speelding is woerende blaarblasers. Die punt van dié verplasing van vuilgoed van een punt na ’n ander ontgaan alle sin en rede en sedert ek hier kom bly het, lyk dit of elke buurman dié blaasding aangeskaf het en beurte neem om, soos honde maak, vuilgoed in mekaar se domein in te blaas. Geen besem doen meer ’n eerlike steek werk nie.

En dan is daar karre en ander rygoed. Op Bredasdorp: trokke. Og, die trokke! En karre met stukkende exhausts en pompende musiek. En bowenal word Schopenhauer se sweepklap geëwenaar en getroef deur die lawaai van motorfietse.

Dié verduiwelse geraas is nie beperk tot ’n enkel sweepklap nie. Danksy tegnologiese vooruitgang duur die klap nou voort. Die herrie is eindeloos! Slegs afstand maak dat die duiwelse klap wyk! Die wonder van ons tegnologie oorstyg nou by verre die perke van ons taal!

Maar Schopenhauer was verkeerd. Dit is nie die growwe kwaliteit van mense se harsings wat hulle by die duiwelse geraas laat berus nie.

Dit is hul vrees vir die Stilte. Die Stilte wat oor alles hang. Die Stilte waarheen ons almal stadig maar seker teruggaan.

Vooruitgang en ontwikkeling het die mensdom nie bevry van hierdie vrees nie. Dié vrees het net afgesink in die silt van ons binneste. Waar dit omgeroer word in ons slaap. Wanneer dit donker is. En stil is.