top of page

Redakteursbrief – 25 Maart 2022: Lekker om trots te voel

[OORSPRONKLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 25 MAART 2022]

 

Dit bly darem maar lekker om spoggerig te kan voel oor iets.

En in ons werk as nuusversamelaars, het ons die voordeel dat goeie nuus soms letterlik by die voordeur instap. Mense kom vertel vir ons van die dorp se suksesse, of hulle stuur nuus vir ons aan.

Natuurlik hoor ons ook gereeld van die minder aangename dinge wat in die streek gebeur, en dan berig ons daaroor.

Maar een ding wat miskien ’n bietjie anders is vir ons as ’n gemeenskapskoerant teenoor, byvoorbeeld, ’n nasionale koerant, is dat ons nie sensasie op die voorblad hoef te hê nie.

Ons hoef nie lesers te lok met bloed nie. Ons kan ons streek se koerant maar gebruik om ’n bietjie onder mekaar te spog. En dít doen ons alte graag.

In verlede week se uitgawe kon Suidernuus lekker spog met die streek se voorste atlete – van die naellopers tot die rolbal-kampioene en flinke fietsryers.

Soms neem ons werk ons op uitstappies in die omgewing, en dan kan ons spog met die natuurskoon van die Overberg – soos verlede week toe ons ons liries geraak het oor die Nuwejaarsvleilande wat ’n groep boere in die gemeenskap beskerm onder die Nuwejaars Wetlands Special Management Area projek.

In hierdie trant is ons nie bietjie trots nie, om dié week ’n onderhoud te kon voer met Odette Curtis-Scott, wat haar lewe daaraan wy om die raar, maar besonder ryk Renosterveld te beskerm.

Ons is ook trots op Linda Booyse se dansskool wat wonderlik gevaar het by die Overberg Eisteddfod.

Ons vertel ook graag stories oor gemeenskapslede wat aktief by die gemeenskap betrokke is en probeer om die lewe vir ander om hulle net so ’n klein bietjie beter te maak – ongeag hoe groot of klein die projek of gebaar.

Hierdie week kan ons spog met ’n plaaslike sokkerspan wat deur Timothy Jende begin is. Die doel van dié span, is om tienerseuns van die straat af te hou en aktief betrokke te kry by opbouende aktiwiteite. Dié span is nou bo-aan hulle liga, ondanks die feit dat hulle soms moet las en pas om uitgerus te kom vir ’n wedstryd.

Verlede week het ons besoek afgelê by Müller Retief, Hoërskool Bredasdorp se skoolhoof, om met hom te gesels oor sy fietsryery (lees hieroor in volgende week se Suidernuus).

Ons sit in sy kantoor, en hy is sélf trots op wat die skool en sy kinders vermag. Hy gesels oor oudskoliere wat nou doktorsgrade in ingenieurswese het, en oor projekte waarby die skoolkinders betrokke is om ’n verskil in die gemeenskap te maak.

Hy glimlag letterlik van oor tot oor wanneer hy gesels oor prestasies uit die streek, en oor die streek se natuurskoon. Nie dat hy wegkyk van die probleme wat ons in die gesig staar nie. Inteendeel. Hy is self betrokke by projekte om ’n verskil te maak; om gemeenskap saam te smee.

Maar soms is dit mos lekker om net ’n bietjie te kan gesels oor die dinge waarop ons as Overbergers trots mág wees.

So, ja. Ons spog graag oor die streek en sy mense. En ons wil graag hê ons lesers moet saam spog. Indien jy meen daar is iets wat nog spog verdien, laat weet ons gerus. Stuur ’n e-pos aan suidernuus@isat.co.za, of kom vertel ons sommer. Ons luister graag.

Mooi wense,

Anneli en Mathabo

bottom of page