Redakteursbrief – 28 Januarie 2022

[OORSPRONLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 28 JANUARIE 2022]

 

As nuwe redakteurs in die tuig by Suidernuus, is dit sekerlik gepas om te sê wat dit is wat ons met die koerant beoog.

Min mense het vandag hoop vir gedrukte koerante. Trouens, gedrukte publikasies maak voor die voet toe. Nuus lees jy nou op die internet. Wat op aarde wil ’n mens met 'n drukpers maak?

Die antwoord vir ons begin met ’n storie. Het u geweet die destydse Vrystaatse Republiek het ’n drukpers gehad ten tyde van die Boereoorlog? ’n Man van Fouriesburg vertel die storie:

As ’n regering intertyd gedurende ’n oorlog ’n gedrukte proklamasie kon uitstuur, dan was dit ’n bevestiging dat die proklamasie geldig is. Dit beteken soldate kon met vertroue dit wat jy hul afvaardig om te doen, uitvoer. Dis nie hoorsê nie. Dis gedruk op papier.

Die drukpers was dus van kernbelang vir die Vrystaatse Republiek se oorlogspoging. Die Britte het hulle blykbaar vrek gesoek na die drukpers om dit te vernietig, maar hulle kon dit nooit opspoor nie. Dit was versteek in ’n grot in Lesotho.

Nou, in ons tyd van Twitter en Facebook en vals nuus, weet ons nie wat u van dié gegewe maak nie. Maar ons dink as ’n mens ’n ding in ’n koerant gaan laat druk, dink jy twee keer na voor jy iets sê. Dis gedruk op papier en jy kan aan jou woord gehou word.

Op die internet sê mense sommer dinge goedsmoeds en haal dit dan weer af. Jy hoef nie eens self te glo wat jy sê nie, want jy hou jou nie aan jou eie woord nie. En as jy jouself nie glo nie, dan het jy mos nie selfrespek nie.

So dalk kan ’n mens sê ’n koerant kan help om selfrespek te kweek en is bevorderlik vir iets soos waarheid.

Die tweede gedagte gaan na ons taal. ’n Koerant is ’n dokument wat help om ’n taal te boekstaaf. Sou hy uitsterf – nie ’n vergesogte vooruitsig vir Afrikaans nie – dan bestaan hy nog as dokument om die mense te gedenk wat die taal gepraat het. ’n Koerant is deel van ’n argief van die taal.

En anders as op die internet wat een groot, onpersoonlike wit wolk is, sit volks-egte sêgoed, vertellinge en relevante inligting lekkerder in ’n koerant wat saamgestel is met ’n bepaalde gemeenskap voor oë. Dis ’n ding met 'n spesifieke doel. Dis nie sommer net nog iets gegooi op die internet en verdwerg deur ’n legio ander dinge nie.

Dit bring ons by die belangrikste rede hoekom ’n koerant gedruk moet word: Dit gaan oor gemeenskap. Gemeenskap is ’n ding wat mense bind aanmekaar, want jy het bepaalde gemeensame belange – hetsy die dorps- of die Overberg- of die Afrikaanse, of die Suid-Afrikaanse gemeenskap. In ’n gemeenskap praat jy met mekaar, gaan met mekaar om en bevorder die belange wat jou saamskaar. Ons almal weet as jy nie gemeenskap het nie, is jy eensaam. En as mense eensaam is, ly hulle.

Nou, as ons die koerant op die internet sit, dan verloor ons dié gemeenskap-aspek. Die koerant is sommer net nog ’n ding wat jy daar op die internet kan gaan soek. Of nie soek nie. Dis nie 'n konkrete ding wat jy gaan koop by die kafee, waaroor jy praat, en iets waaraan jy deel voel nie. Dis eintlik net ’n idee wat êrens in die kuberruim ronddryf.

Mense verstaan intuïtief hierdie gemeenskapsfunksie van ’n koerant. Die afgelope twee jaar is Suidernuus noodgewonde op die internet geplaas – ’n besluit van die vorige eienaars, Louis Koen en Marlize Koen, wat heeltemal te verstane is gegewe die Covid-situasie.

Maar sedert ons oorgeneem het, het dosyne mense gevra of ons die koerant weer gaan druk. En was hulle bly om te hoor ons gaan!

Ons hoop ons gaan voldoen aan die gemeenskap se verwagtinge en dat ons almal daarin met liefde en respek sal dien. Ons hoop om steeds die streke rondom Agulhas, Bredasdorp, Caledon, Elim, Struisbaai, Swellendam en Waenhuiskrans te omarm. Ons gaan ook voort as ’n tweetalige publikasie, want ons gemeenskap sluit Engelssprekendes in.

Ons nooi u uit om u te kom voorstel, met ons te kom gesels, te stry, raad te gee en stories te kom deel. Kortom, ons nooi u om met ons in gemeenskap te tree. Want ’n gemeenskapskoerant is ’n ding wat net werk as dit saam met en deur die gemeenskap geskep word.

Ten slotte, moet ons darem seker die storie oor die Vrystaatse Republiek se drukpers klaarmaak.

Die man wat die storie vertel het, sê dat die drukpers ná afloop van die oorlog Bethlehem toe is, waar dit tot in die 1990’s gebruik is om die plaaslike koerant te druk. Toe is dit aan diens onttrek vir uitstalling in die museum.

Omdat die Vrystaatse Republiek in Fouriesburg gesetel was, het dié dorp egter gemeen die drukpers hoort eerder daar en versoek dat die pers soontoe gaan. Bethlehem het ingestem en die masjien gestuur. En daar, in Fouriesburg se museum, het ’n paar jaar gelede ’n vuur uitgebreek en die drukpers het uitgebrand.

Wys jou net: ’n Drukpers is nie 'n museumstuk nie. Dit is ’n ding wat sy werk moet doen.

Beste wense,

Die redakteurs