top of page

MARIUS PRAAT PLAAS – Kyk noord en … plant voort?

[OORSPRONLIK GEPLAAS IN SUIDERNUUS, 20 MEI 2022]


’n Stukkie wysheid uit ’n ou Amerikaanse spiritual gee hierdie week insig in ’n nuttige stuk planttegnologie. Ons vertel meer oor GPS’e en Moses Hogan.

 

Die GPS-selfstuureenheid op die trekker verseker dat daar nie oorvleueling is nie. Foto's: Marius Swart


Daar is baie ruimte in die lewe vir die vae buitelyn, die geleidelike ronding, en ander natuurlike vorms. Maar wanneer dit kom by enige soort handwerk, en hierby sluit ek plaaswerk in, is die reguit lyn ons verstekopsie.

In die konteks van ’n saaiplaas is daar baie reguit lyne – dink aan die lyndraad tussen plase, of die drade wat kampe van mekaar skei. Reguit lyne markeer duidelike buitelyne en verseker doeltreffende werk. Om draad te span behels ook ’n fyn sin vir reguit lyne.

In die populêre kultuur het ons baie verwysings wat ’n reguit lyn in verband bring met deugdelikheid – dink aan die Engelse spreekwoord oor die “straight and narrow”.

In een van my gunstelingstukke koormusiek, ’n verwerking van die spiritual “Hold On” deur die legendariese Moses Hogan, kom hierdie mooi reël voor: “Noah said you lost your track, can’t plow straight and keep a-looking back”.

In hierdie konteks gaan dit daaroor dat ’n mens nie oor die verlede moet tob in so ’n mate dat jou lewe by jou verbygaan nie. Dis ook gaaf dat hier ’n landbouverwysing in sit.

As jou huidige ploegvoor nie reguit gegooi word nie, het dit met elke volgende ploegvoor ’n uitkring-effek wat uiteindelik veroorsaak dat jou grond nie behoorlik bewerk word nie, jou ploeg onnodig slytasie kry, en jou land sleg lyk.

Elke ou hand op ’n trekker het ’n eie geloof gehad oor hoe om reguit te ploeg. Jy kan ’n peil trek tussen die uitlaatpyp en die trekker se neus deur, of jy kies vir jou ’n punt op die horison, of ’n windrigting. En ’n goeie wenk was om altyd die stuurwiel te laat los voor jy omkyk na jou implement toe, sodat jy dit nie onverhoeds draai nie.

Die ‘eye in the sky’

Die moderne ekwivalent van al hierdie tegnieke is die gebruik van ’n GPS-ontvanger en -verwerker met ’n outomatiese stuurstelsel op jou trekker.

Kyk ’n bietjie as jy weer ’n trekker met ’n planter op die pad of op ’n land sien – is daar dalk op die kajuit se dak ’n ronde ding wat lyk soos ’n myner se hoed of soos ’n paddastoel? Party is wit, ander is geel. Vir diegene wat Star Trek-aanhangers is, sal die antenna dalk lyk soos die skottelgedeelte van een van die Enterprise-tuie.

Hierdie ontvanger kommunikeer, nes die GPS in jou motor of selfoon, met verskeie satelliete en bepaal deur ’n ingewikkelde stuk driehoeksmeetkunde die presiese posisie van die trekker op die land.

Dit kan dan gebruik word om ’n buitelyn om ’n land te trek, of om perfekte, reguit stroke parallel oor die land heen te maak. Hierdie stroke word “bane”, “snitte” of “vakke” genoem, afhangende van waar in die distrik jy jou bevind.

Binne-in die trekker sit tipies ’n skerm waarop daar ingekleur word waar die implement reeds gewerk het. Baie ander inligting kan ook verkry word, soos die grondspoed, die helling, en dies meer.

’n Tipiese GPS-eenheid se skerm in die trekker se kajuit. Foto: Marius Swart


Presisie

Die grootste voordeel van GPS-toerusting op plaasimplemente is dat dit oorvleueling tussen verskillende werksbane uitskakel. Dit beteken dat plantvoedingstof, saad, chemikalieë en natuurlik ook diesel en slytasie bespaar word.

Elke deel van die land kry net die nodige. Sodoende word ook baie tyd bespaar. En uit ’n estetiese oogpunt lyk die lande mooi afgewerk.

Die nuutste GPS-tegnologie kan die trekker of implement stuur met akkuraatheid van onder ’n duim – dit wil sê, minder as 2,5 sentimeter.

Dink ’n bietjie daaroor. Hier is die operateur in ’n trekker op die plaas, besig met een van die oudste menslike aktiwiteite, die verbouing van graan wat ons kan eet. Die trekker word gestuur deur ’n rekenaar wat ’n patroon oor ’n land trek en weet waar hy is deur te kommunikeer met satelliete wat ver bo die aarde in ’n wentelbaan is.

Dis dalk nie vreemd dat die goed lyk soos iets uit Star Trek nie.

Ons praat volgende keer verder oor hulle, want hier het ons nog net begin.

Gaan kyk vir ’n trekker met ’n hoedjie op en neem sommer ’n foto van hom met jou eie draagbare assistent, en luister dan na ’n koorweergawe van “Hold On”.

bottom of page